Monday, February 25, 2013

Ek het lank laas geskryf. Wanneer ek skryf, maak ek "huis skoon", pak uit, pak reg en gooi weg dit wat ek nie meer nodig het nie. Miskien is dit vandag nodig om bietjie te spring clean.

Wat pla my? Hoekom laat vrouens toe dat mans hulle misbruik, verneder, sleg sê, mishandel, gebruik as huishoudsters en dit maar net gelate aanvaar? Hoekom staan hulle nie op teen die idiote nie? My Bybel sê man en vrou sal as een lewe en mekaar aanvul, ondersteun en mekaar se gelyke wees.

Ek dink regtig dat indien ek 'n "hitman" was (of een in die hande kon kry), daar baie minder idiote asem sou haal. Ek is jammer, maar as jy jou hande kan lig teenoor 'n vrou (wie jy belowe het om te beskerm met jou lewe), dan verdien jy nie om te lewe nie. Ek dink dis eenvoudig makliker om die ass met 'n swaar pan dood te slaan wanneer hy jou aanrand. Baie minder moeite. So dikwels wanneer die vrouens wel besef genoeg is genoeg en wil skei, die regstelsel hulle nie behulpsaam is nie, dit 'n eeu vat en hulle stukkend aan die ander kant uitstap.

Dis wanneer ek wens ek was 'n regter. Vir die wat steel, kap af die hande en los hom om dood te bloei, want as jy steel wil jy in elk geval nie werk nie. Verkrag - kap af, dit pla mos. Sommer heeltemal - los die ass ook om dood te bloei. As jy moord pleeg word jy sommer daar op die trappe voor die Hof doodgeskiet, of beter "voelvry" verklaar - wat beteken die familie van die een wat jy vermoor het, het die reg om jou dood te maak, sonder dat hulle iets sal oorkom. En laastens, violens teen vrouens en kinders - bring hulle en sit hulle in 'n sel saam met klomp mafoeta vrouens. As daar iets van jou oorbly voer ons dit sommer vir die aasvoels.

Ek dink dit kan werk, of hoe?



Tuesday, June 26, 2012

Borskanker

My vriendin het borskanker. Vir meer as 'n jaar al fight sy dit. Maar dis mos een van daardie siektes waaroor jy nie met jou vriendinne kan praat nie, want wat sê jy? Sjoe, ek is so jammer dat jy nie meer hare het nie?

In plaas maak jy of dit nie bestaan nie; jy stuur epos boodskappies en sê jy hoop dit gaan goed en "ek bid vir jou", maar verder? Verder gaan jy aan met jou lewe en jy is innerlik bly dat dit nie jy is nie. Watse tipe vriendin is jy?

'n Baie slegte een, dis verseker. Ek erken, ek is 'n baie slegte vriendin. Vir meer as 'n jaar het ek nog nie een keer saam met haar gaan koffie drink en net gevra "hoe cope jy regtig" nie. Vanoggend sien ek 'n foto van haar saam met haar familie op facebook en dit slaan my soos 'n vuishou in die maag. Haar pragtige bos lang krul hare is weg. Daar is net 'n spikie kop en 'n maer lyfie wat wegsmelt langs haar man. En dan sien ek dit - haar glimlag! Buiten alles wat die lewe oor haar pad gebring het, glimlag sy - breed. Sy is so 'n sterk mens en ek haal my hoed vir haar af!

Wednesday, June 20, 2012

Tired of living, tired of try
Tired of fighting, tired of lie


Tuesday, May 8, 2012

Omtrent tyd

Ek het sooo lank laas ietsie geskryf dat ek nie weet waar om te begin nie. Wat sê mens nou eintlik vir jouself as jou hart soos lood in jou maag lê. Toemaar, alles sal regkom? In jou siel weet jy sy verdien nie om swanger te wees nie, maar tog wens jy net die beste vir die baba.

Jy sit in die tuin onder die boom en huil 'n volle uur oor die lewe wat onregverdig is, dan vee jy jou snotneus af en glimlag vir die wêreld. Nee, jy wil beslis nie nog kinders hê nie - die 2 uur opstaan in die oggend is nie vir jou nie. Tog sal jy in werklikheid alles wat jy het verruil om net weer die eerste vlinder bewegings te kan voel, die klein poeier liggaampie te kan vashou en die pruil mondjie te kan soen. Solank niemand weet nie is jy mos ok? Of is jy?

Soos al die ander stukkies seer bêre jy dit diep binne waar niemand dit kan sien nie en waar jy nie graag wandel nie. Daar waar die spoke van jou verlede oor die geraamtes in jou kas waak. Erêns in 'n donker nag, wanneer dit te warm is om te slaap en jou brein muf aan en af skakel, dan kruip een na die ander jou gedagtes binne en lê en worstel jy terwyl warm trane in jou kussing loop.

Jou lewe wil net nie rigting kry nie, want jy weet nie meer waarheen jy oppad is nie. Jy loop in sirkels en verander drie keer van koers net om weer op dieselfde plek uit te kom. Die desperate pyn in jou borskas maak dit moeilik om normaal asem te haal en blur jou visie.

Want jy het gearriveer by die punt van omdraai verby. Daar waar jy nie meer kan nie en nie meer wil nie. Waar jy moeg is vir ander mense se nonsens; moeg is vir mense wat op jou trap en hulle voete aan jou afvee; moeg is vir baklei vir jou plekkie in die son; sommer net moeg vir alles.

Monday, May 9, 2011

Moedersdag

8 Mei 2011 - Moedersdag; die eerste Moedersdag na my ouma se dood en ek weet almal mis haar vandag. Ek wou eers blommer op haar graf gaan sit het, maar weet dat Anita dit reeds gedoen het. Ons was vir 'n week by JJ in Hibberdene en dit was wreed en hartseer om te sien hoe hulle sonder haar aansukkel. Haar plekkie is leeg en stil.

Ons mis jou.

Thursday, February 3, 2011

Ouma Viempie

Die kamer ruik benoud en met die intrapslag kom lê vrees vierkantig in my bors. Ek staar na die piep venstertjie bo teen die plaffon waardeer God se genade oor jou skyn - jou gebroke liggaam op 'n wit hospitaal bed; masjiene wat jou welstand in die nagstilte uitskree. Vir 'n vlietende oomblik wens ek ek kon jou optel, in Sy liefde toevou en jou wegvoer na 'n plek sonder lyding, maar ek weet dis nie moontlik nie. Daar, voor jou bed met die doodse reuk in my neus, vat ek jou hand en praat my oë met jou - vertel ek jou hoe innig lief ek jou het en hoe leeg my lewe sonder jou sal wees. Ek sien dat jy verstaan. Jou lippe beweeg maar die pyp in jou mond verhoed jou om te praat. Jou skouers skud soos jy traanloos in stilte huil en dit breek my om jou so te sien. Ek is so magteloos. Here, waarom laat jy dit toe dat Jou kind so ly? Jou oë smeek my - jy kyk na die masjiene en weer na my, maar ek probeer nie eers verstaan was jy wil sê nie - hoe kan ek? Ek ignoreer jou woordelose boodskap, druk jou hand en soen jou sag op die voorkop voordat ek kop onderstebo my rug op jou draai en uitstap. Die gang buite die ICU deure voel vreemd; leeg. Niemand beweeg verby die deure nie en net nou en dan trek die klank van woorde sonder betekenis by my verby. Miskien is dit die leegheid binne my wat alles om my besmet en ook leeg en troosteloos maak. As ek my oë toemaak sien ek jou vol, ronde gesig met 'n breë glimlag op vir 'n oomblik voor die bleek, maer, ingevalde gesig vol pype sy plek neem. En ek wonder, is dit hoe ek jou gaan onthou?


Hierdie keer was dit 'n massiewe hartaanval wat die monitor 'n reguit lyn laat trek, maar jou gebroke siel word wreed terug geruk in jou liggaam wanneer die dokter jou hart weer laat klop. Ongelukkig het dit nie vinnig genoeg gebeur nie en het jy nou totale breinskade opgedoen. Waar jy eens met die oë en gebare kon kommunikeur, is jy nou in 'n koma en ons enigste geselskap die geluide van die monitors. Elke dag sien ons hoe jy wegkwyn, stukkie vir stukkie, en daar is niks wat ons kan doen behalwe om te hoop en ons Hemelse Vader te smeek vir genesing. Dan kom die oproep om te sê "Daar is niks wat ons meer vir haar kan doen nie...". Hulle skuif jou na 'n privaat kamer en ons mag kom wanneer ons wil en bly solank as wat ons wil. Met die intrapslag sien ek almal om jou bed - jy is omring deur liefde - en jy straal vrede uit. Ek het gedink dit sal vir my baie erg wees om jou hierdie keer te sien, maar daar is vrede in my hart. Ek het vir JJ vertel van die droom wat ek gehad het. Jy het twee keer vinnig asem gehaal en skielik was dit asof jy my kon hoor en verstaan het dat ek jou boodskap oorgedra het. Ek kan sien dat jy rustig en tevrede is en dit maak dat my hart ligter voel. Jou vel is sag en warm onder my vingerpunte en, vir 'n laaste keer, streel ek oor jou voorkop en speel ek met jou hare. Ek weet dat jy weet dis ek. Nes jy my as kind altyd gestreel het en met my hare gespeel het, doen ek nou met jou. Ek gee jou bietjie liefde om saam te neem op die reis wat voorlê. My hart is lig wanneer ek by jou kamer uitstap. Buite die hospitaal het ek eers met my tannie gestaan en praat en vir haar gesê dat jy lief was vir haar soos 'n eie dogter en dat jy menige male vir my gesê het dat, as jy eendag nie na jouself kan kyk nie, sy dit vir jou sal doen. Dis dan ook wat gebeur het. Al het jou kinders beurte gemaak om dag en nag by jou te waak tydens jou laaste uittog, was dit tog sy wat jou vir 'n laaste keer gewas en room gesmeer het. Sy het haar woord gestand gedoen en jou laaste wens vervul.

Maandag aand kon ek nie aan die slaap raak nie. Die honde het geblaf en ek was onrustig. Toe die telefoon lui het ek geweet my ouma is dood voor my ma dit bevestig het. Met droë oë het ek na die plafon gelê en staar en my brein het aan alles gedink sonder om sin te maak van enige iets. As ek my oë toemaak het ek ouma se gesig voor my gesien; nie soos sy in die hospitaal gelyk het nie, maar soos sy op haar troudag gelyk het - stralend. Ek was nog te klein om haar tweede troue te onthou, maar ek moes seker êrens 'n foto gesien het, want ek het haar en JJ duidelik in die troukar gesien sit. Vir 'n oomblik het die droom wat ek 'n week terug gehad het weer by my opgekom. Ek en ouma het gesit en gesels. Sy het vir my gesê dat ek vir JJ moet sê dat haar troudag een van die gelukkigste dae van haar lewe was en dat sy hom liefgehad het. Sy het my hand gevat en ernstig vir my gesê dat ek vir hom moet sê, maak nie saak wat nie, hy sal altyd deel van hierdie familie wees. Sy het dit herhaal en ek moes haar belowe dat ek hom sal sê. Ek het.

Ek is verlig omdat haar lyding op 'n einde is, maar my hart is baie seer omdat sy nie meer daar is nie. 70 is nog te jonk om dood te gaan. Dis asof haar dood my skielik laat besef het dat ons almal haar gaan volg - my ooms en tannies is almal in hulle vyftigs en ons is kort op hulle hakke. Dit beteken dat enige een van ons volgende is en ek is nog nie reg om totsiens te sê nie. Dit maak my bang omdat ek geen beheer het nie. Dit het my ook laat besef dat al my ouma se kinders nou wees is - my oupa is jare terug reeds oorlede en nou is my ouma ook weg. Skielik het nie een van hulle meer ouers nie. My verlies van my ouma ervaar ek anders as hulle verlies van hulle ma. Sy was die rugstring van hierdie familie en ons gaan haar baie mis.

Wednesday, December 22, 2010

Gebed vir vandag

Dankie Heer, dat ek is waar U wil hê ek moet wees; dat ek kan deel wees van ‘n groep mense wat my aanvaar nes ek is; waar ek nie ‘ekskuus’ hoef te sê oor hoe ek lyk of my gewig nie en waar ek net myself mag wees.


Dis ‘n seen om daagliks omring te wees van mede-christene met wie ek my pad kan stap.

Daar is soveel om voor dankbaar te wees en mense wat ek waardeer: die vroutjie wat die suiker en melk kombuis toe bring, want sonder koffie kan ek net nie aan die werk kom nie; die klerk wat vir my leers aandra en die soek wat ek nie kry nie; “Jan” wat eintlik “Peter” is, maar wat my los om hom Jan te noem en elke keer vriendelik vir my plek maak as ek gou ‘n afskrif moet maak.

Ja, dis die klein dingetjies wat ‘n groot verskil aan my daaglikse lewe maak.

Die vinnige geselsies met my mede-kollegas beur my op en maak dat ek by die werk wil wees. Dankie dat ek my werk geniet; dat dit vir my lekker is om in die oggend op te staan en aan te trek vir werk. Gee dat dit altyd so sal bly en dat ek U teenwoordigheid elke dag om my sal voel en sien – in EJ se glimlag; LR se grappies en ook in myself.

Gee dat ek altyd net my beste sal gee, sonder om erkening terug te verwag. Dankie dat ek, met die beperkte kennis wat ek het, ook ‘n verskil kan maak.

Dankie vir U liefde en genade.

Amen